Maritz Familie van Suidwes

 

NICOLAAS GYSBERT JACOBUS MARITZ (KLAAS)

   EN JOHANNES  HENDRIK GERHARDUS MARITZ (HANS)

 

Berig uit "Die Suidwes Afrikaner"      9 Augustus 1927

 

STAMPRIET

Dit is lank laas dat daar nuus van hierdie wyk in u koerant gewees het.   Dit sal maar wees hiervan en daarvan, en ook van die toekoms van die Auob en omgewing.

In die laaste jaar het ons gehoor en geleer.   Die Administrateur het met sy laaste besoek veel beloftes gemaak en Sy Edele het hulle almal nagekom.   Ons het hier in die Auob eksperts en deskundiges gehoor op hoenders, landbou, romerye, veeaanteel ens.   Op die vergaderings was dit duidelik gemaak hoe om die genoemde boerderye voort te sit om geld te maak....    Mnr Viljoen het Gochas toegespreek;

Ek wil net die publiek herinner dat dit die Administrasie geld kos om vir ons ekperts en deskundiges te stuur en dat  ons moet gebruik maak daarvan want dit kos tog vir ons geld.   Veel van ons boere het gebruik gemaak van die advies en andere is ook nou oortuig dat geld kan gemaak word in die Auob.   Die Auob publiek het agtergekom dat hulle nie meer so ver van die marke af is nie; ons het een groot gerief van die spoorweglorrie (Sara Thornycroft) tot so ver het ons die lorrie gekry tweekeer per week; van aanstaande maand kry ons hom driekeer per week.     Binnekort hoop ons dat die Administrasie vir ons 'n telefoon sal gee deur na Gochas.   Die Auob het baie Unie besoekers gehad in die laaste paar maande, party vir plase en meeste vir veld en die mofskape land in duisende by die dag aan.   As ek moet oordeel dan sal ek sê dat ek reken dat helfte van daardie vee in S.W.A. gaan bly, vernaamlik as die mofskaap hier aard, soos ons boere dit wil hê.   En ook dat die intrekkers hulle plase in die Unie verkoop en hier koop.   Ek is seker dat die mof settelaars sal welkom wees en ons hoop dat die settelaars wat sal terug gaan die Unie-mense sal vertel dat dit nie 'n woestyn is nie, maar net so 'n land soos die Unie, en die grootste dele net so dik bewoond as in die Unie.   En hulle sal ons ook help om 'n dorp te sitg in die Auob (hopende Stampriet) want hier is 'n grote Hostel.

Die toekoms van die Auob is groot, omtrent elke soort groente kan nou verkry word, alhoewel die hoeveelheid maar min is.   Aanstaande jaar sal die Auob seker die spoorwegkontrak kry vir groente.   Ek verstaan dat die Maritz Broeders vanjaar weer oor 'n duisend sak koring verwag.

Voetnota:    Dit is 'n  streeknuus beriggie.   Skrywer onbekend, maar 'n samevatting  van die geskiedenis gedurende 1927 van Aoub en Stampriet omgewing.   Karakoelskaap boerdery was toe blykbaar nog nie algemeen nie.    Klaas en Hans Maritz het geboer met saaiery op Stampriet terwyl Dawid Maritz op Tsamnarib geboer het ook met koring onder die dam.

 

 

Berig uit Die Suidwes-Afrikaner"    20 Desember 1928

 

HOFMEYER

Die grootste en vernaamste dag in ons Suid-Afrikaanse geskiedenis, nl. Dingaansdag, is reeds 'n dag van die verlede in die jaar 1928.

Die klein plekkie Hofmeyer se mense en ander mense wat daarheen gegaan het  vir die groot fees, had die eer sy Edele die Administrateur Mnr. Werth en sy vrou in hul midde te hê gedurende die feesdae.   Ook Eerw. Leonard van Windhoek was teenwoordig.

Saterdag het die mense reeds toegestroom met karre, waens en moters.   Die opkoms was besonder groot.   'n Laer is getrek onder die heerlike koeltebome, wat die son afgekeer het.

'n Aantal moterkarre het Mnr. en Mev. Werth om vyf uur n.m. twaalf myl ten Noorde van Hofmeyr gaan ontmoet.

Mnre. I. Minnaar en N. Maritz het beide 'n welkomswoord gedoen, waarop Mnr. Werth hul vriendelik bedank het.   Daarna het Eerw. Leonard 'n kragtige gebed gedoen en almal het 'n psalm saamgesing.

Sondagmôre   het Eerw. Leonard kerklike dienste waargeneem.   Maandagmôre met dagbreek is daar 'n paar skote afgeskiet, 'n gesang gesing en 'n gebed gedoen.   Om agtuur het Mnr. Minnaar 'n kort openingsrede gehou en Mnr. Werth is weer gevra om 'n toespraak te hou.

Mnre. Maritz, Minnaar en Leonard het verder verslag gegee van die geskiedenis.    Om twee uur het Mnr. D. van der Merwe die vergadering geopen met 'n toespraak in verband met Dingaansdag.

Verder is die debat afgehandel.   Mnr. en Mev. Werth het daarna afskeid geneem, nadat hy almal hartelik bedank het en is toe na Windhoek terug.

Dank sy die Feeskomitee nogmaals vir die goeie organisasie wat daar was gedurende die feesdae.

 

Voetnota:-   Dingaansdag was 'n instelling op Hofmeyer.   Izak Minnaar was getroud met Sannie Maritz se suster, Lesaja du Plooy.   Die karre waarvan gepraat word is perdekarre.