Maritz Familie van Suidwes

 

100JARIGE FAMILIE HERDENKINGFEES IN SUIDE VAN NAMIBIë

ERKENTLIKHEID EN VERSOENING.

Enige reisiger deur die Suide van Namibië sal verskoon word, sou hy 'n oppervlakkige indruk van hierdie pragtige landstreek vorm - droog, bar, woes en vêr geleë.

 

Delf en speur so 'n bietjie en daar ontvou egter 'n boeiende menslike geskiedenis wat in die suide van die oorspronklike Groot Namaqualand/Duitswes-Afrika  afgespeel het in die jare 1800 tot  1910.

Dit is nie maklik om die geskiedenis in 'n paar sinne te vertel nie, maar baie kortliks het dit so gebeur.

 

Van die vroegste tye het die Khoisan vrylik daar rondbeweeg en gelewe van die veld. Daarna het van die ander Bantoestamme soos die Herero's en die Ovambo's vanaf die sentrale dele van Afrika suid getrek en gevestig. Dan was daar Namastamme wat vanaf die Kaap en ander dele van Suider-Afrika noord beweeg het. Die heel eerste blankes wat in die grootliks onbewoonde, onherbergsame land voet aan wal gesit het was Diego Cam in 1484 en daarna Bartholomeus Diaz wat kruise aan die kus geplant het in hul soektog na 'n seeroete na Indië.

Daarna was dit vir eeue die blyplek van die Inboorlingstamme wat onder mekaar geplunder het. Veral die Herero's het kwaai deurgeloop onder die Namastamme wat toe ook inbeweeg het.

Die heel eerste blanke wat oor die Oranjerivier gegaan het was die jagter Jacobus Coetzee van Piketberg in die jaar 1760 en daarna het Ryk Tulbagh vir Hendrik Hop gestuur op 'n verkenningstog. Na hom het verskeie ekspedisies  die land  besoek.

In 1792 is die boere Pieter Brand, Gideon Visagie en Barend Fonteyn al aangetref by Warmbad en Swartmodder (Keetmanshoop). Ook het verskeie smouse die land ingekom om handel te dryf met die inboorlingstamme.

 

In die jare 1800 het die eerste sendelinge onder die inboorlingstamme kom werk. So algaande het meer omtrent die land bekend geword en het mense begin intrek.

As gevolg van die mobiliteitsbeweging van die Afrikaners wat al hoe verder getrek het vanaf die eerste nedersettings in die Kaap, omdat hulle na beter weivelde gesoek het, het daar vanaf 1870 ook Afrikaanse Trekkers oor die Grootrivier gekom en hulle in die suide van die land kom vestig.

In 1881 het 'n Duitser, Adolf Luderitz by Angra Pequena geland en was dit die begin van die Duitse invloed in die land. Op 24 April 1884 word dit bekend as Duits-Suidwes-Afrika (Deutsche Südwestafrika) en kom onder Duitse beskerming en word die eerste Duitse Goewerneur aangestel.

Daar was nie georganiseerde Afrikaanse Trekke nie, behalwe die trek van Hendrik Smit wat vanaf Piketberg op 6 Oktober 1890 met 30 gesinne getrek het. Na hom het daar nog verskeie trekke gekom. Die meeste het nog steeds in die Suide by Warmbad en Keetmanshoop omgewing gebly, maar algaande al hoe verder Noord getrek totdat hulle in die omgewing van Kub, Gibeon en Stampriet vergader het. Die plekke was meestal geleë aan die Visrivier wat water gehad het. Hulle het plase van die Nama's gehuur en later gekoop. So het Hendrik Smit die plaas Swartmodder van Hendrik Witbooi gekoop wat teen die tyd ook al oor die Grootrivier gekom het vanaf Pella in ongeveer 1864.

Die boere het nie kerke of skole gehad nie en is bedien deur die Rynse Sendelinge. Later sou die N.G. Kerk van Kaapland predikante stuur om die mense te kom besoek. Die Duitsers was die Trekkers goedgesind, maar ook besorg oor die Trekkers se gehegtheid aan hul taal, godsdiens en tradisies en wou die boere dwing om van die Rynse Sendelinge gebruik te maak en  nadat die eerste skool gestig is moes hulle in Duits onderrig word. Die Trekkers het nie probleme met die Duitsers of die Nama's gehad nie en het met hul eie probleme om te oorleef  geworstel.

Intussen het die Duitsers die plundertogte probeer stopsit en moes die beeste gebrand en gemerk word. Al die wette het die Nama's nie gepas nie, want hulle het gou uitgevind dat hulle gesag, ondergeskikte gesag geword het en dat die Duitse Regering nou die wette toepas. Hulle was ook ongelukkig oor die plase wat verkoop word aan die Trekkers en het al hoe meer in opstand gekom.   

Eerste het die Duitsers en die Herero's in gevegte betrokke geraak en nadat die Herero's verslaan is het die Nama's in opstand gekom.

Nadat Hendrik Witbooi in 1894 tot oorgawe gedwing is deur die Duitse magte het daar vir tien jaar vrede geheers en het die land vooruitgegaan.

Die boere het huise begin bou en putte gegrawe en al hoe meer mense het die land ingetrek.

In 1904 kom die vrede van Hendrik Witbooi tot 'n einde en verklaar hy oorlog teen die Duitse Regering. Hy ontvang van Baäl Stuurman, sy  profeet, 'n heilige opdrag om al die blanke mans en seuns te vermoor.

So begin die Nama Opstande wat geduur het van 1904 tot 1908.

Afrikaanse en Duitse gesinne is op plase aangeval en die mans en seuns vermoor. Die Trekkers het inderhaas na vlugtelingkampe soos Kub, Gibeon, Aris en Gochas gevlug vir beskerming. Boodskappe is na al die plase gestuur, maar van  die boere  wat op afgeleë plase gewoon het en nie bereik kon word  nie is uitgemoor. So het die beleg van Kub begin.

Die getalle van die Trekkers wat op Kub bymekaar gekom het was nie veel nie, maar later het daar Duitse versterkings onder aanvoering van Von Brandt gekom wat later deur Kaptein Engelhard vervang is. Die dorpie is egter steeds aangeval. Hulle het hul verdedig so goed as hulle kon en sou deur die oorweldigende magte van Hendrik Witbooi en Simon Koper oorval gewees het as daar nie betyds 'n groter Duitse mag vanaf Waterberg, waar hulle net klaar die Herero's verslaan het, gekom het  om die mense van Kub te red  nie. Die Boere het aan die Duitse kant geveg om die Witbooi's te verslaan.

 

Na die oorlog verby was, het die lys van burgelike ongevalle 290 getel. Omtrent die hele kerkraad van die nuwe Gemeente Gibeon is vermoor en die geld, Bybel en kerkdokumente is gesteel. Die plase is geplunder en baie van  die vee is gesteel. Die boere moes weer  van vooraf  begin.

Nageslagte van hierdie Pionier Voortrekkers glo daar is 'n ondersteunende positiewe bydrae te lewer tot versoening en nasiebou deur die Augustus 2004 Herdenkingsfees.

Ons gaan vanaf die 25ste Augustus tot die 29ste Augustus op Stampriet bymekaarkom en die verlede onthou met deernis en dankbaarheid. Ons verwag talle nasate van die Voortrekkers om aan die Herdenkingsfees deel te neem.  Ons beplan om plekke soos Swartmodder,  die ou plaas  Marienthal en Kub te besoek. Pastoor Hendrik Witbooi, wat tans in die Namibiese Regering dien, gaan vir ons die fees open. Ons hoop dat dit as 'n gebaar van versoening gesien sal word.  Op Kub gaan ons 'n gedenksteen oprig sodat die nageslagte kan sien dat ons in die jaar 2004  die Voortrekkers gehuldig het. Die Sondag gaan ons 'n Gedenkdiens hou en daarmee afsluit. Die fees word gereël deur Nicolaas Gysbert Jacobus O'Kennedy, 'n kleinseun van Nicolaas Gysbert Jacobus Maritz wat met sy ses seuns en twee dogters in die jaar 1897 soontoe getrek het.

Kub is waar die eerste Afrikaanse Skool in Namibië gestig is, en waar die Slag van Kub plaasgevind het. Die naam Kub kom van die Namawoord !!Khub wat doring beteken en verwys na die doringbome wat langs die Visrivier groei. Hendrik Witbooi het die plaas !!Khub aan 'n Duitser met die naam Wecke verkoop. Vandag kan nog net die vervalle skoolgeboue, Duitse Militêre geboue, wat later 'n winkel en hotel geword het, die eerste ou kerkgeboutjie van die Gemeente Gibeon en twee begraafplase gesien word. Die plaas behoort nou aan  Lambrecht gesinne, nasate van een van die Voortrekkers. 

Die monument ter ere van die gesneuweldes tydens die Slag van Kub is nog staande en sal deur ons besoek word.

Sedert die Onafhanklikheidsverkiesing in 1990 is daar in Namibië met stampe en stote tog 'n mate van vordering gemaak met mense- en volkeverhoudings deur kompromieë en akkomodasie van onderskeie  volksgroepe se redelike  verwagtinge.

Geen groter gees van versoening, nasiebou wedersydse erkenning en onderneming tot toekomstige  samewerking met ander volksgroepe in Namibië kan aangebied word as die uitgangspunt van hierdie fees nie.

Vorige konflikte en botsings hoe onaangenaam en onverdedigbaar ookal kan nie voor die deur gelê word van huidige nageslagte van hierdie strydende partye nie. Ons is tog nie vandag verantwoordbaar vir wat100 jaar gelede gebeur het nie.

So is Mnr. Hendrik Witbooi 'n naamgenoot afstammeling van die oorspronklike Hendrik Witbooi genooi om ook 'n bydrae te kom lewer.   Sy bevolkingsgroep word hulle gereëlde feeste gegun waar hulle hul kultuur, lewensfilosofie en verering van hul voorgeslagte kan uitleef soos wat aan alle volksgroepe gegun word.

Ons glo ook daar sal geleenthede voorkom waar sprekers van die nasate van die Pionier Voortrekkers ook by 'n Witbooi-fees kan gaan gesels oor die toekoms en die lesse wat ons saam uit die verlede kan leer.

 

Daar is meer faktore wat Namibiers aan mekaar bind as wat daar is wat verdeel. 

 

As daar vasgehou word aan gesamentlike waardes en lewensfilosofieë, ruimte gegun word vir individuele of volksgroepe se standpunte en ons aan dieselfde Skepper en Lotsbeskikker getrou bly kan daar mos net 'n blink toekoms vir almal vorentoe wink in Namibië.

My naam is Susan Bredenkamp (gebore van der Merwe)  kleindogter van Dawid Johannes Maritz wat saam met sy vader Nicolaas Gysbert Jacobus Maritz in 1897 vanaf Noordkaap daarheen getrek het. My moeder Susanna Maritz en haar broers en susters  was van die vroegste  leerlinge op Kub en ek was ook op  laerskool daar. My oupa Dawid Johannes Maritz en sy broers word genoem in die boek van Dr. Gustav S. Preller en so het W.A. de Klerk ook 'n boek geskryf met die title "Gésel van Namaland" wat handel oor die gebeure rondom Kub en die twee hoofkarakters is geskep rondom my oupa se twee broers, Jan en Lodewyk wat nog op skool by Meester Kooy was.

Dit is baie moeilik om so 'n interessante geskiedenis so te verkort omdat elkeen van my paragrawe eintlik 'n hele boek op sy eie is of ten minste 'n paar hoofstukke.  Daarom heg ek vir jou 'n chronologiese weergawe van die  gebeure tot ongeveer 1908 aan sodat jy 'n beeld kan vorm van wat gebeur het.

Elkeen beskou die geskiedenis natuurlik uit sy eie oogpunt en dit is selde dat hierdie Afrikaanse Voortrekkers in Suidwes  se verhaal  vertel word.  

Bronne:

Voortrekkers van Suidwes                           -     Dr. Gustav S. Preller

Martelaarsbloed sal nooit verdroog             -    Connie Zondagh

Herinneringe van Suidwes-Voortrekkers      -   P.G. Visser

Bakermat van 'n Kerkverband                      -   Dr. M.M. Nieuwoudt

The Ageless Land                                        -  Olga Levinson

South West                                                  -  Gerald Cubitt  and Johann Richter

 

South West Pioneer                                      - Colin Earl Bell

 

Nuusbrief     S.W.A. Wetenskaplike Vereniging

Webwerf   van Dr. Klaus Dierks

 

Handgeskrewe verhale deur Christoffel Coetzee Windhoek Argief

Witbooi Oorlog Verhaal van Joseph Jooste in Handskrif van C. Coetzee

 

Namib   - David Coulson

Klub 1903 - 1953 Feesblad