Maritz Familie van Suidwes

 

ANDRIES FRANCOIS MARITZ

Berig uit die N.G. Kerk Windhoek-es se Kerkblad in 1977

 

WYLE ANDRIES FRANCOIS (ANDREW) MARITZ

Hy was een van Suidwes se voortrekkers wat in 1900 na S.W.A. gekom het, onder baie moeilike omstandighede.

As kind van nege jaar, moes hy en sy suster van 7 jaar saam met die ander familie nege maande sonder brood, koffie en suiker klaarkom.   Hulle twee moes ook by tye die vee so saam met die waens aanja en as hulle te moeg word, het hul vader hulle dan op die wa gesit om te rus en het hy self na die vee gekyk.   As kind moes hy baie ontberings deurmaak.

1904 Oktober het die Hottentot-oorlog uitgebreek en moes hulle in die nag deur bosse vlug te voet, min of meer 36 myl na die plek Kub.   Al wat hulle kon saam neem is soveel soos een perd kon dra.   Daar was 'n klein klomie boere wat toe laer getrek het en teen die hordes moes veg.   Met geweer in die hand en vertrouend op God moes hulle veg.

Voor die oorlog was hulle baie arm, maar het toe met die ossewaens vir die Duitsers transport gery vanaf Windhoek na Gibeon en Luderitz.    Hulle vee het vermeerder tot 2,200 en hulle huise was vol kos, klere en alles wat hulle nodig had, tot 'n huisorrel, want die Maritze was baie musikaal.   Toe hulle moes vlug, het alles net so agtergebly om deur die vyand verniel te word.    Hulle het 'n getroue veewagter gehad met die naam Damab.   Hy het met die vee gevlug, maar die vyande het sy hande agter sy rug vasgemaak, baie van die vee buit gemaak en geslag, maar met die wat oorgebly het, het Damab by sy base uitgekom.   Toe die geveg verby was, het hulle teruggegaan plaas toe.    Die kussings en verebeddens is oopgesny en die vere uitgegooi, die orrel was so verniel, dat hulle dit uitmekaar moes maak om dit skoon en herstel te kry.   Meeste van die kos en klere was ook weg en geplunder.

Met ontwrikbare geloof en vaste vertroue het hulle weer van vooraf begin en so goed vooruit gekom dat hulle grond kon koop en weer rustig voortgaan.

1914 het weer oorlog uitgebreek.

Omdat die klompie Afrikaners Duitse onderdane was, moes hulle of gaan veg of tronk toe, hulle het toe maar gaan veg.   Toe my man by die huis kom na die oorlog was hy so siek dat sy moeder en ouer suster gedink het die einde is daar.    Deur genade het hy weer beter geword en later saam met 'n vriend na Kaapstad gegaan na beenspesialiste.   Onder Gods genade het dit baie beter gegaan vir 'n klompie jare, maar in die laaste jare het hy baie pyn en ongerief verduur.

Op 9 November 1977 is hy skielik oorlede na 'n smartlike lyding van nege maande wat hy met geduld gedra het.

 

 

Goedgunstelik geskenk aan Maritz - Koerantberigte deur Marie van der Merwe van Swakopmund.
Voetnota's:-    Andries Maritz het saam met sy ouers in 1897 Suidwes toe getrek.   Die plaas waarvandaan die Maritz familie gevlug het was Garries.