Maritz Familie van Suidwes

 

Brief van Ponk O'Kennedy,

Duitswes  ponk@iway.na

Die opstande het waarskynlik met volmaan begin.  Begin  Oktober 1904.   Die eerste moorde het op 03.10.1904 op Rietmond en op die plaas Marienthal (Enkelkameelboom) plaasgevind.   (Onthou daar was geen horlosies nie en die maan en sterre was die enigste tydmeters.)   Scheitweihler, 'n Duitse setlaar boer en Maurer en Held, die twee Duitse polisiemanne op Marienthal was waarskynlik die eerste vermoordes.   Frans de Villiers Smeer, die hoofouderling van die N.G. Kerk, Gibeon gemeente blyk die eerste Afrikaner te wees wat vermoor is.  

Daar is verskeie bronne wat inligting verskaf in verband met die Opstand.  Die Afrikaanse bronne is in die 1940's  met 'n groot nasionalistiese uitkyk geskryf en is nie histories baie korrek nie.   Die beste bronne is in Duits en goeie inligting is in die Windhoek Argief beskikbaar.

Bronne:-

Südwestafrika in der Deutschen Zeit - Oskar Hintrager - 1955

History of South West Africa -  I. Goldblatt - 1971

Voortrekker van Suidwes.  Dr. Gustav S. Preller - 1940

Martelaarsbloed sal nooit verdroog - Connie Zondagh.   Die man is my buurman, sodoende is die boek maklik beskikbaar.   Dit is goed nagevors en handel oor die Gibeon omgewing en die Opstand.

Ek moet myself seker voorstel.   My naam is Nicolaas Gysbert O'Kennedy gebore 19.04.1959 en ek is woonagtig op Stampriet, die ou woonplaas van Klaas en Hans Maritz.   Ek is 'n kleinseun van Nicolaas Gysbert Jacobus Maritz getroud met Louisa Hermina Visser.   My ma is Christina Susanna Maritz gebore 15.01.1931, die jongste dogter van Nicolaas Gysbert Jacobus Maritz.

My dogter is besig om inligting in die argief en Wetenskaplike Vereniging in Windhoek te versamel vir 'n boek wat ek beplan.   Ek het reeds met baie van die ander families wat tydens die Opstand in Duits-Suidwes Afrika woonagtig was, geskakel.

Ek sal enige insette en betrokkenheid waardeer en is ook bereid om enige inligting te verskaf.   Die gedagte is dat so 'n skrywe die ware verhaal moet vertel  van wat my voorouers beleef het en moes deurmaak.   Ek geniet dit baie.

Suidwes Groete !

Ponk.