Maritz Familie van Suidwes

 

BRANDS TREK NA SUIDWES.

In die herfs van 1889 het Fritz Brand en sy gesin besluit om na die destydse Duitswes-Afrika te verhuis.   Wat die redes hiervoor was, kan net oor bespiegel word. Die moontlikheid is egter groot dat die soeke na plaasgrond en 'n beter toekoms, die belangrikste rede was.  Fritz was een van die jongeres van 'n groot gesin en die moontlikheid van erfgrond of goedkoop grond in die Sandveld of in die Wes-Kaap, was haas nul. Na die Duitse anneksasie van Suidwes-Afrika in 1884 het baie Afrikaners ook vanuit die Sandveld hulle in Suidwes gevestig. Fritz se verhuising kan dus teen hierdie agtergrond gesien word.

Fritz was die seun van Petrus Arnoldus Jurgens Brand en Heletje Aletta Johanna Gildenhuys.   Hy is op 29 Oktober 1849 as Frederik Floris Johannes Jacobus op die plaas Olifantskuil in die Malmesbury distrik gebore. Fritz was warskynlik nog 'n baba toe sy ouers na die Piketberg-omgewing verhuis het waar hulle hul op die plaas Kapteinskloof of die nabygeleë Suurfontein gevestig het.

Fritz (19) is op 9 Maart 1869 in die N.G.Kerk op Piketberg met Anna Francina Elizabeth Coetzee (16) getroud. Omdat beide minderjarig was, moes hulle ouers spesiale toestemming vir die huwelik verleen.   Uit die huwelik is vyf kinders gebore, te wete: Magdalena Maria Jacoba, geb. 22 Desember 1869, Petrus Arnoldus Jurgens geb. 15 Desember 1871, Heletjie Aletta Johanna geb. 11 Februarie 1875, Huibrecht Helena Hester geb. 11 Julie 1877 en Frederik Floris Johannes Jacobus geb. 22 Augustus 1879.

Fritz se kinders is almal op Rietvlei, naby die teenswoordige Aurora, gedoop. Rietvlei het toe as kerksentrum vir daardie omgewing gedien en was 'n buitewyk van die Piketberg-gemeente.

Dit is onseker waar Fritz en sy gesin gewoon het gedurende die twintig jaar wat sy trek voorafgegaan het.   Vermoedelik het hy op Suurfontein of nader aan die huidige Aurora, hom in een of ander hoedanigheid met boerdery besig gehou. Dit word gemeld dat hy op Suurfontein gewoon het ten tye van sy trek i n1889

Die trekgeselskap het bestaan uit die Brand gesin en Hendrik Smit van Modderfontein, naby Aurora.   Hendrik Smit was nog ongetroud en is deur Preller as 'n "bemiddelde man vol ondernemingsgees" beskryf.   Fritz en sy vrou was beide in die laat dertigs. By hulle was hulle kinders Piet (17) Heletjie (14) Huibrecht (12) en Fritz (10). Kido, die veewagter, was in beheer van 'n klompie aanteelvee wat saamgeneem is. Die groep het vanaf Rietvlei in die Sandveld vertrek;  die Brands per ossewa en Smit met 'n kapkar met vier perde. Die Brands se oudste dogter, Leentjie, het nie die aanvanklike trek meegemaak nie.

Fritz-hulle se roete het hulle oor Greyspas geneem, verby Clanwilliam en Vanrhynsdorp en deur die Knersvlakte, in die rigting van Upington waar hulle oor die Oranjerivier is. By Grondneus het hulle 'n wyle vertoef voordat hulle vort is na die land van die Veldskoendraers in die omgewing van Aroab, waar hulle 10 maande na hulle vertrek vanaf Rietvlei, aangekom het.

Nog dieselfde jaar 1890, het Hendrik Smit vlugtig 'n draai in die Sandveld kom maak. Hy het 'n baie gunstige verslag oor toestande in die vreemde met hom saamgebring, soveel so dat verskeie gesinne in die Piketberg-distrik daardeur aangespoor is om ook na Suidwes te verhuis. Op 6 Oktober 1890 het hy vanaf Soutkuil, naby teenswoodige Aurora, terug na Suidwes vertrek. Saam met hom was ook Frans Smit, Jasper Coetzee, Hendrik Turner en nog Brands. Hierdie Brands was Piet Brand en sy vrou Mieta en hulle seun en dogter en stiefseun. Volgens mev. Mieta Bergh van Gobabis was Piet en Mieta haar grootouers.   Piet Brand was die seun van Joachim Paulus Brand van Soutkuil.   Oom Jan Brand was vermoedelik 'n broer van Piet.

In 1891 het Fritz Brand met die ossewa by familie in die Sandveld kom kuier. Hulle het weer op 29 Oktober 1891 vanaf Grootvlei, die plaas van sy broer Floris, met twee ossewaens en 'n klompie aanteelvee terug na Suidwes vertrek. Fritz se oudste dogter, Leentjie en haar man, Jan Lambrechts het toe ook saamgegaan. Teen 15 Desember het hulle die Oranje oorgesteek en op 22 Januarie 1892 was hulle weer tuis.

In die beginjare het die Brands in Suidwes in tente gebly en van plek tot plek rondgetrek. Hulle het later van Aroab na Gougab naby Klipfontein, verhuis. Klein Fritz het in 1894 sinkingskoors opgedoen wat sy een been laat optrek het en hom laat mank loop het tot met sy dood.  Jan Brand snr. is in dieselfde jaar 1894 oorlede aan "knoop in die derm".  In 1896 is Fritz snr. na Windhoek om met die Duitsers te onderhandel, waarskynlik oor grond en 'n permanente woonplek.  Kort hierna het die gesin hulle op Kub in die Gibeon-distrik gevestig. Kub was omtrent 10km vanaf die spoorwegstasie Kalkrand en was in daardie jare 'n middelpunt vir die Afrikanergemeenskap in Groot Namakwaland. Dit was 'n waterryke omgewing en in 1904 is dit ook as "Hoofd Kerkplaaats" vir die mense in daardie groot omgewing aangewys.

Fritz en sy mense het hoofsaaklik uit veeboerdery (skape en beeste), die bou van plaasdamme en 'n bietjie transportry 'n bestaan gemaak. Dit was maar 'n harde lewe a.g.v. die ongenaakbare natuur en die bedreiging van opstandige Hottentotte, maar hulle geloof in die Hoër Hand het hulle deur alles heen gedra.

Die Brands was ten nouste betrokke by die kerklike lewe in Groot Namakwaland. In 1892 is Fritz snr. gekies as een van die "voorgangers" (kerkraadslede) vir die kerkgemeenskap van die Karasberge. In 1899 is hy gekies as lid van die "Kerklijke Commissie" wat as geeslelike leiers gedien het vir die NGKerk-lidmate in die gemeenskappe van Gibeon en Windhoek. In 1908 word Fritz jnr. 'n diaken in die Mariental gemeente. Hy was ook later (1920) ten nouste gemoeid met die bou van die kerk op Mariental.

Fritz is op 27 Augustus 1900 (18 Augustus volgens grafsteen) op Rehoboth oorlede terwyl hy vanaf sy plaas op pad na Windhoek was. Hy is ook daar begrawe. Sy vrou Anna, wat hom oorleef het, het later as huismoeder opgetree vir die kinders in die Afrikaanse skool op Kub na die afsterwe van mev. Kooy, die skoolmeester se vrou. Op haar oudag het sy by haar kinders rondgekuier. Sy is in die Aranos omgewing oorlede op Mariental begrawe.

Die twee Brand seuns Piet en Fritz en hulle twee swaers, Jan Lambrechts wat met Leentjie getroud was en Jan Coetzee wat met Huibrecht getroud was het hulle toe op Auros gevestig waar hulle hul op veeboerdery toegelê het.   Piet in rondom 1892 met Anna Coetzee op Warmbad getroud. Hulle het vier seuns en een dogter gehad, waarvan Frikkie (geb.11.10.1893) en Johannes Jacobus (geb.18.04.1914) onderskeidelik die oudste en die jongste seuns was. Piet kon aanvanklik nie grond bekom nie, omdat hy nie soos sy broer Fritz, Duitse burgerskap wou aanvaar nie. Hy het egter later in die omgewing van Gobabis gaan boer waar hy op 18 Maart 1953 oorlede is.   Hy is op Gobabis begrawe. Teen 1904 was Fritz steeds op Auros woonagtig. Hy is in Januarie 1905 met Hester Aletta (Hessie) Rousseau in Windhoek getroud. Na die Hottentot-oorlog het Fritz en sy vrou hulle op die plaas Komatzas in die Mariental distrik gevestig. Al Fritz se kinders, drie seuns en vyf dogters, is hier gebore. Dit het goed met sy boerdery gegaan maar in 1911 het 'n ramp hom getref toe 'n siekte onder die vee, 812 skape van hom geeës het. Fritz het later noordwaarts verhuis en op die plaas Mytilus in die Gobabis omgewing gaan boer.  Fritz is op 9 Oktober 1943 op Gobabis oorlede. Die ander Brand dogter, Heletjie, was met Hendrik van Dyk getroud.   Sy is in 1910 oorlede.

Nasate van Piet en Fritz en die ander Brands hierbo vermeld, woon nog wyd in Namibië.  'n Seun van Fritz, Piet (PAJ) woon tans op Botrivier (RSA) terwyl 'n kleinseun van Piet, ook Piet (PAJ), seun van sy jongste seun Johannes Jacobus, tans op die plaas Krans naby Gobabis boer.

 

Bylae 4.11 :   Brands Trek na Suidwes.  Atikel ontvang van Marthinus Brand van Parow.  Uittreksel uit Marthinus Brand se boek  "Brands van Grootvlei".   Tel No.  021 939 1523 Sel 083 653 0873  e-pos mcbrand@absamail.co.za.