Maritz Familie van Suidwes

  KOERANTBERIGTE

 

KUB GEDENKFEES NOVEMBER 1953

Berig uit "Die Suidwester"    31 Oktober 1953

GEDENKFEES OP KUB BEGIN VOLGENDE VRYDAG.

FEESKOMITEE HET 'N VOL PROGRAM GEREëL

Die Gedenkfees van Kub waarin veral hulde gebring sal word aan die pioniers sal vanaf Vrydag 6 November tot Saterdag 7 November op Kub plaasvind.   Die belangstelling vir hierdie Gedenkfees is tans baie groot en persone wat graag die fees vanaf Vrydag wil bywoon word gewaarsku dat indien hulle op die feesterrein wil kampeer, hulle hul eie tente moet saambring.   Etes sal op die terrein te koop wees.

Die feestelikhede begin Vrydagoggend om elfuur met die beoordeling van karakoelpelse, beoordeling van naaldwerk en die beoordeling van babas.   Die amptelike opening sal om halfdrie deur die voorsitter van die skoolkomitee plaasvind.   Verskeie ander nommers sal hierna afgehandel word.

Na die aandete sal om halfagt 'n skoolkonsert deur die leerlinge van die Kub-skool plaas vind.  

Die volgende dag, Saterdag vanaf sewe tot agt, sal 'n goddiensoefening in Duits en Afrikaans in die Kerkgebou gehou word.   Na oggendete sal die re-unie van die oud-leerlinge en oud-leerkragte in die feestent plaasvind.  Hierdie verrigtinge sal duur vanaf kwart-oor-nege tot om halfelf.   Hierna kom die toesprake deur die eregaste aan die beurt totdat middagete om eenuur bedien word.

Verskeie skole sal vanaf twee-uur kadetteparades, volkspele- en volksanguitvoerings gee tot om halfvier wanneer die eerste optog na die kerkhowe, die eerste skool op Kub en die monument plaasvind.

Om kwart-voor-vyf sal 'n ere-saluut deur ou Duitse strydmakkers by die monument gevuur word; 'n kort huldingswoord deur Mnr. E. Gusinde; die kranslegging by die monument namens die Duitsprekendes; kort huldingingstoespraak deur Mnr. D.J. Maritz; die kranslegging namens die Afrikaanse gemeenskap  en die ere-saluut deur ou Afrikaanse strydmakkers.  Die huldigingsboodskappe van Mnre. Gusinde en Maritz sal in die gedenknaald wat by die monument opgerig word, gebêre word.

Die feesdag sal afgesluit word met die opening van die nuwe brug oor die Visrivier by Kub.