Maritz Familie van Suidwes

 

KOERANTBERIGTE

 

DAWID JOHANNES MARITZ

Berig  in "Die Suidwester"  geen datum by, maar moes September/Oktober   in die jaar  1962 verskyn  het.

 

OU SUIDWESTER NOU 91 KON NOG 'N PLAAS VIR 'N OS RUIL.

Een van die min Afrikaners wat meer as 60 jaar in Suidwes is, Mnr Dawid Johannes Maritz, van Oostewald, Mariental, het onlangs sy 91ste verjaardag gevier.

Mnr. Maritz het in 1898 na Suidwes gekom en hy is waarskynlik een van die eerste boere wat 'n dam gebou het en koring onder besproeiing geplant het.   Reeds in 1908 het hy sowat 700 sak koring jaarliks gewen.

Hy het destyds die dam teen 'n koste van R10,000 opgerig en altesaam 140 osse het die werk gedoen.

SPOTGOEDKOOP

Plase was destyds spotgoedkoop vertel sy skoonseun, Mnr Hennie Cloete, L.V. vir Namib, en daarom het Mnr. Maritz 'n hele aantal plase van tyd tot tyd aangeskaf.   So het hy byvoorbeeld die plaas Stamprietfontein - waar die huidige dorp Stampriet is - in 1905 vir R1,000 gekoop.   Die plaas was 14,000 hektaar groot.

By 'n ander geleentheid het hy 2 plase naby Haaseier vir 'n os elk geruil.

Mnr Maritz kom oorspronklik van Victoria-Wes en is in 1898 met Susanna Lucia du Plooy van Reddersburg getroud.

ONTSET LEëR

Vanaf 1903 het Mnr Maritz aan verskillende Hottentot-oorloë deelgeneem en het onder meer saam met ses ander man 'n Duitse leër wat ses weke lank op Gibeon deur die Hottentotte vasgekeer was, ontset.   Volgens Mnr. Cloete is sy skoonvader nog baie aktief en stel hy belang in wêreldaangeleenthede.

 

Voetnota's:-      Verskeie foute kom voor in berig.  Mnr. Maritz het reeds in 1897 na Suidwes gekom   Mnr. Maritz het Stamprietfontein in die jaar 1907 bekom.   Hy koop die plaas Tsamnarib van die Duitse Regering "Verkoopbrief 2690  -Windhoek Argief" op 9 November 1908.   Die koringoes moes eers na 1914 gewen gewees het, want die dam was toe eers  klaar en  loop vir die eerste keer vol in 1914.    Daarna  is begin om koring te saai.   Hy is  in 1896  met Susanna Lesaja du Plooy getroud.