Maritz Familie van Suidwes

 

DIE HOTTENTOT-OPSTAND

DIE VLUGTOG VAN DAWID JOHANNES  MARITZ EN ANDER IN DIE HOTTENTOT OORLOG. 

 

Dawid Johannes Maritz, sy vrou Susanna Lucia en wadrywer, Izak van der Linde, was middel 1904 met twee ossewaens op pad vanaf Luderiz na Keetmanshoop en Gibeon met vragte.    Die een wa se vrag moes op Gibeon afgelaai word en op die ander wa was 'n vrag hawer vir Sers. Ficke van Kuis.   Op Groendoring, 24 myl suid van Gibeon, span Dawid Maritz uit om sy osse water te gee by Alcock, 'n Baster met 'n Nama vrou.   Alcock lig hom in die geheim in van die opstand en dat baie blanke mans reeds vermoor is.   Dawid span dadelik sy osse in en bereik Gibeon op 6 Oktober 1904.   Hy verontagsaam alle waarskuwings dat dit te gevaarlik is om verder te trek.   Hy koop 100 patrone en trek dieselfde aand verder op pad na sy woonplaas Bo-Garries aan die Pakriemrivier.

Onderweg kom hulle Andries de Wet tee wat sy vrou en 'n Duitse kuiergas vanaf Seskameelboom na Gibeon te neem vir veiligheid.   De Wet probeer Dawid oorreed om liewer om te draai en terug na Gibeon te trek, maar Dawid dink dit is beter om met sy hele familie na Bo-Garries deur te druk.   Hy span die maanligaand tussen Gibeon en Seskameelboom uit en bemerk die volgende oggend spore van 'n groot aantal perderuiters baie naby sy uitspanning.   Hy was baie verbaas dat die Hottentot krygers hulle nie aangeval het nie.

Hulle span vroeg die volgende oggend die 7de Oktober 1904 in en sit die tog na Seskameelboom voort.   Oppad ontmoet hulle Sers. Hoge, die bevelvoerder van die polisiepos op Kuis, wat verneem oor die Hottentot opstand.   Nadat Dawid Maritz hom vertel het wat hy weet, sit  Sers Hoge . sy reis voort na Gibeon.   Hulle trek verder tot op Seskameelboom en tref Andries de Wet se twee broers, Koos en Jan,  van Alphen en 'n swart bediende van Piet de Wet daar aan, gereed om te vlug.   Hulle vertel dat die Duitse polisieman, Theo Gröber, te Hatzam reeds vermoor is, deurdat die Hottentotte hom tot by die voordeur van die polisiepos gesleep het en toe sy kop soos die van 'n dier afgesny het.   Dawid Maritz vertoef daar tot Andries de Wet die aand sou terug kom vanaf Gibeon.    De Wet bring die boodskap dat von Burgsdorff nog nie terug is vanaf Rietmond nie en dat vermoed word dat hy vermoor is.   De Wet besluit om sy winkel en hotel agter te laat en te vlug.

Dawid Maritz besluit om die hawer van sy wa af te laai omdat hy makliker met 'n leë wa kan vlug.   De Wet hulle kon reguit Gibeon toe vlug, maar Dawid Maritz moes met 'n ompad oor Zauchas (Zubgaus), die plaas van Jan Mosterd volg om die Witbooi krygers te mislei.   Die de Wets het onderneem om tot donker te wag voordat hulle sou vlug sodat Dawid Maritz 'n voorsprong met die waens kon kry.   Nog voor donker, direk na die de Wets gevlug het, het die Hottentotte die hotel se kantien bestorm en lekker aan die groot hoeveelheid drank begin drnk.   Maritz se vrou, Sannie Maritz wou gif in die drank gooi, maar Dawid het gesê dat dit onchristelik is om so moord te pleeg.   Die drinkery het gelukkig Maritz kans gegee om 'n voorsprong met die waens te kry.   Tog het 'n stuk van twintig Witbooikrygers hom gevolg, maar nadat hy op hulle geskiet het, het hulle omgedraai  en na Seskameelboom teruggegaan en die winkel en hotel geplunder.

Op pad met Dawid Maritz merk hy vier Hottentotspioene agter hom in die wapad op.    Die spioene het ongeveer 1000 tree agter die wa gebly en as hulle nader kom het hy op hulle geskiet.   Hy besluit ook om die kontantmunte wat hy in skottels op die wa gehad het, langs die pad te begrawe en sy vrou steek al die note in haar klere aan haar lyg weg.   In die haastigheid het oral note in die wind rondgewaai, maar daar was nie tyd om dit op te tel nie.

Toe Dawid Maritz op Zauchas aankom het hy Kerneels Brink en Jan Mostert houtgerus aangetref.   Mev. Brink was 'n kankerlyer en het 'n plank tussen haar bors en haar klere gehou sodat die bloed nie haar klere kon vlek nie.   Sy is later op 4 Desember 1904 in Gibeon oorlede.   Ook op Zauchas  het Brink en Mostert geglo dat die Hottentotte slegs die Duitsers sou aanval en die Afrikaners met rus sou laat.   Tog het hulle Hottentotwagters al hulle vee gesteel en reeds na Kaitsibis gejaag waar Hendrik Witbooi voorrade vir sy krygers opgebou het.   Dawid Maritz tref egter voorsorg vir 'n moontlike aanval en laat water in die huis indra.   Kort voor sononder 8 Oktober 1904 kom Koos Hugo, Jan Hefer en Schalk van Heerden vanaf Satansplaas op Zauchas aan.   Die groep besluit om so gou as moontlik na Gibeon te vlug vir veiligheid.

Die volgende oggend terwyl hulle besig was om die hoogs nodige klere en beddegoed op een wa te laai, kom Abraham Burger, ernstig siek aan pokke en Joseph Jooste met Anaat Burger (gebore van der Linde), bloots agterop perde, sonder toom met net 'n tou in die bek, aangejaag.   Jooste het die vorige oggend dagbreek oudergewoonte beeskraal toe gestap om te gaan melk.   Terwyl hy tussen die beeste rondstap het hy 'n gewapende Hottentot, ene Kaptein Salmon, op 'n krans ongeveer 200 tree agter die kraal opgemerk.   Voordat Jooste kon reageer het Kaptein Salmon op hom geskiet.   Hy hardloop  dadelik huistoe, waarsku al die mense en so gryp hulle sommer die perde in die veld en jag bloots sonder saal en toom na Zauchas.    Anaat Burger was histeries en het baie gehuil.   Sy kon ook nie haar bene vir 'n ruk lank bymekaar kry nie as gevolg van die blootsryery.

Die aand van 9 Oktober 1904 het hulle tot donker getrek en net 'n rukkie die jukke van die osse se skowwe afgehaal sodat hulle kan rus.   Om die osse te laat wei was  'n te groot risiko.   Beangs het die vrouens, Jan Mostert se vrou, ou tante van der Linde, Sannie Maritz en kinders in die klein tent van Maritz se wa geskuil en elke man het gewapend wag gestaan by sy wa.    Later die nag het hulle verder getrek en die volgende oggend 10 Oktober 1904 by Hanaus aangekom.    Op Hanaus het hulle in die rivier ingery sodat die osse in die juk kon water suip en het ook hulle watervat volgemaak.

Op die vlugtog is verkenners vooruit gestuur en talle kere het hulle berigte van spore van berede Hottentotkrygers gebring.   By die kloof op Hanaus het Dawid Maritz en Jan Hefer op so 'n  verkenningstog drie Hottentotspioene doodgeskiet.   Hiervandaan het hulle vir Jan Hefer en Schalk van Heerden na Gibeon gestuur wat die tyding teruggebring het dat tien manne uit Gibeon die groep vlugtelinge na veiligheid in Gibeon sou help.

Die oggend van 11 Oktober 1904 het die groep manne uit Gibeon die vlugtelinge te hulp gekom en het hulle veilig in Gibeon aangekom.   Vir 'n tydperk van 45 dae was Gibeon beleër en kon niemand waag om die dorp alleen te verlaat nie.   Daar was ongeveer tagtig Afrikaner en Duitse manskappe in Gibeon saamgetrek en die totale getal Blankes was ongeveer 180.   Die Afrikaners het 'n eie kommandant, van der Westhuizen en veldkornet, Andries de Wet gekies.   Eers in Desember 1904 kon Dawid Maritz weer na sy plaas Karris, suid van Kub, terugkeer.