Maritz Familie van Suidwes

 

Kub Gedenkfees November 1953

 

Berig uit "Die Suidwester"    21 November 1953

 

KUB BRING OP TREFFENDE WYSE HULDE AAN PIONIERS

VYFTIGJARIGE BESTAAN VAN AFRIKAANSE SKOOL IN SUIDWES GEVIER

TALLE besoekers van heinde en verre het verlede Vrydag en Saterdag op treffende wyse hulde gebring aan die pioniers van Suidwes tydens die viering van die 50-jarige bestaan van die eerste Afrikaanse skool in Suidwes.   Die feestelikhede is Saterdagmiddag afgesluit tydens die inwyding van die nuwe brug oor die Visrivier by Kub.

Reeds vanaf vroeg Vrydagoggend het die besoekers ingestroom en 'n feestelike stemming het by die feesterrein - die eerste skoolgebou - geheers.

Om elfuur het die eerste verrrigtinge plaasgevind toe die tentoonstellings aan die beurt gekom het.   Karakoelpelse van hoë gehalte, naaldwerk en babas is beoordeel en het groot belangstellig uitgelok.

Die uitstalling van oudhede waaronder ammunisie, wapens en granate van die vroeëre oorloë en veral die van die Nama-opstand in 1904, het groot belangstelling uitgelok.   Foto's van mev. Frida Voigts van Windhoek en mnr. Hubertus Mehnert van Kub wat oor die vervloë dae gehandel het, het 'n gedurige toeloop van mense na die uitstalling gelok.

Saterdagoggend om sewe-uur het eerw. Joubert van Mariental en landespropst. Höflich van Windhoek 'n gesamentlike oggenddiens in Afrikaans en Duits gehou.   Hulle het verwys na die groot aandeel wat albei bevolkingsgroepe aan die ontwikkeling van Suidwes gehad het en die hartlike samewerking wat daar geheers het.

Propst. Höflich het veral melding gemaak van die dienste wat die Afrikaansprekendes van die Lutherse kerk gekry het voordat die Afrikaanse kerk in die toenmalige Duits-Suidwes gestig is.

OUD-LEERLINGE

Na die ontbyt het die oud-leerlinge en oud-leerkragte van die skool byeengekom.   Ongelukkig kon die baanbreker en stigter van die eerste Afrikaanse skool in Suidwes, mnr. Albertus Kooy, nie teenwoordig wees nie.   Hy woon tans in die Belgiese Kongo en sy gesondheid het hom verhinder om teenwoordig te wees.

Die verrigtinge is gelei deur die organiseerder van die fees, mnr. W.M. Oosthuizen, die huidige skoolhoof.

Leerlinge van Kub, Maltahohe en Mariental en die skoolkadette van Mariental het hierna 'n erewag gevorm om die eregaste mnr. J. Neser, die waarnemende Administrateur, dr. H.J. Steyn, L.U.K. mnr. M.H. Greef, Direkteur van Onderwys, dr. C.J.C. Lemmer, hoofinspekteur van Skole, die magistraat van Rehoboth, mnr. W. Schoch, mnr. P.C. Roux. L.W.V. vir Maltahohe in wie se kiesafdeling Kub val en mnr. W.J. Lategan, L.W.V., te verwelkom.

In sy toespraak het mnr. Neser verwys na die wyse waarop die Afrikaanse skole in Suidwes deur die toenmalige Duitse regering te hulp gekom is.   Dit was duidelik dat die Duitsers die Afrikaners in Suidwes verwelkom het en graag hul samewerking wou hê om die land op te bou.

Na middagete het die feesgangers gegaan na die monument wat opgerig is ter ere van die soldate wat in die opstand in 1904 gesneuwel het.   'n Pragtige wit kalksteen met die woorde.   "Ons bring hulde" is by hierdie monument aangbvring  en verskeie veterane uit daardie tyd het huldigingsboodskappe gelewer.

Mev. S. L. Maritz het namens die Afrikaanssprekendes 'n krans by die monument gelê en mev. S. Bogalecki namens die Duitssprekendes terwyl landespropst Höflich die huldigingsrede gelewer het.

Na afsluiting van die plegtigheid by die monument het die feesgangers na die rivier gegaan waar die nuwe brug oor die Visrivier geopen sou word.   Kort na vyfuur het dr. H.J. Steyn die lint oor die brug geknip en met sy motor gevolg deur 'n lang stoet motors en die skoolkadette van Mariental, oor die brug gery.

Hierdie brug verbind Kalkrand met Maltahohe en Maltahohe met die hoofpad van Mariental-Rehoboth.   Die brug is binne die kort tydbestek van dertien maande gebou en het £19,600 gekos.