Maritz Familie van Suidwes

 

DIE ROL VAN DIE AFRIKAANSE BOERE.

 

 

Die redes vir die trek van die meeste boere was die mobiliteitsbeweging en om ekonomiese redes.     Dit het beteken dat hulle altyd na  beter en ruimer velde gesoek het en so mobiel geword het.   Hierdie was nie polities geinspireerde  - "onder Engelse juk uit" - trekke nie.

 

Na Jan van Riebeeck 1652 aan die Kaap geland het is landbougronde aan Vryburgers toegeken vir graanverbouing.    In 1680 slaan baie van akkerbou oor na veeboerdery.   Nou het hulle meer grond gesoek vir die vee en so het hulle nuwe ruimer weivelde gesoek en so algaande al hoe verder die binneland ingetrek.
Die boere het vanaf ongeveer 1870 uit Klein Namaqualand noordwaarts deur Kakamas, Ramansdrift, Schuitdrift en Sendelingsdrift na Warmbad omgewing die land ingetrek.

 

Die tweede stroom het deur Velloorsdrift, Kakamas en Olijvenhoutsdrift ingekom.   Hul dring die land binne in 'n noordwestelike rigting van Rietfontein en Mier  en so na Gibeon en Windhoek.

 

Die Nama Kapteine verkoop en verhuur hul grond langs die Nossob en die Grossoup en Mier aan die Boere.
Pastoor  C. Wandres van Warmbad was die Rynse Sendeling.    Die Roomse Sendelinge bied skole en kerke vir boere aan en priesters wat Hollands magtig was word  na Heirachabis gestuur.      Dit is die Roomse aanslag.  Die N.G. Kerk besef nie die gevaar nie. 
Pastoor C. Wanders het aan die Ring van Tulbagh geskryf om die Kerk te waarsku oor die ingrawing van die Roomse Kerk.

Daarna stuur die Kerk meer van sy predikante na Suidwes.   

 

BESOEKENDE LERAARS.
2 Maart 1890 kom Ds W.P. de Villiers van die gemeente Carnarvon op die plaas Liefdaad aan.   Hy was die eerste  N.G. leraar wat na Suidwes gekom het.

 

23 Augus 1893   besoek  Ds. Andrew Murray van Worcester en C. Bam van Riebeeck-wes  die plaas Gannapan van J.J. van Wyk.   Skoolmeester  M. H. le Roux gaan saam.

 

April 1898 het di.  Alheit, W. de Vos de Wet en J.H. van Aarde gekom.   Hulle gaan by Ramansdrift oor.   Hulle vind  256 siele   (136 lidmate).     In 1898 word gevind dat ongeveer 600 Afrikaner mense tot op die hoogte van Windhoek aanwesig was.  

By Gibeon is daar 258 siele (97 lidmate.)

Mei tot Junie  1899 besoek Ds. A.G.T. Schoevers die gebied.

 

4 Oktober 1902.    Ds. J.F. Botha en H. P. van der Merwe  besoek Suidwes.

 

Maart 1904 word Kub aangewys as die "Hoofd Kerkplaats" met Gibeon as buitewyk.

DIE TREKKE VAN DIE AFRIKAANSE BOERE NA GROOT NAMAQUALAND/DUITS-SUIDWESAFRIKA.

 

 

Die eerste georganiseerde trek was op 6 Oktober 1890  van Hendrik Smit vanaf Rietvlei, Piketberg met 30 arm gesinne.  Hy was 'n welgestelde man en het leiereienskappe gehad.   

 

Saam met hom trek Frans Smit, Fritz  Brand met sy vrou Anna, Piet sy seun van 18 jaar en drie jonger kinders, Jasper Coetzee met sy gesin en seuns en Hendrik Turner.     Hulle moes die waens laai met  tente, beddegoed handelsware, riempieskooie en verder eetgereedskap en lewensmiddele soos meel, suiker en koffie.   Vorentoe sou hulle self moes klaarkom.
In 1891 vestig hulle by verskillende waterplekke by Warmbad.   Hulle het met Willem Christiaan van die Bondelswarts van Warmbad onderhandel en verlof verkry om daar te vestig.     Spangenberg, van die plaas Klipfontein,  wat lank reeds daar gewoon het het as tolk opgetree.   Hy was 'n wapensmokkelaar.
Die volgende trek het bestaan uit Willem en Loffie van der Merwe, Jurgens van Lill, Esterhuizen, Potgieter, Gird, van der Linden, Mostert, Frans Smeer, van der Westhuizen, Burgers, Kotze, Coetzee,  Maritz, Dreyer, Smit, Nieuwoudt, Gous, Rossouw, Steyn en Uys.

 

Die trekkers het baie swaar gekry deurdat hulle moes soek vir water vir die diere in die droeë land.    Daar was nie baie oop water nie en hulle moes gorras grawe vir water.

 

Ook moes hulle talle male voor 'n hof verskyn en dan moes hulle boete betaal deurdat van hulle osse, slagskape en koffie en suiker geeis is.    Dit moes hulle aan die Nama's betaal omdat hulle die land sonder verlof binnegekom het.   Of enige ander rede wat uitgedink is.   Hulle kon niks doen as daar van hul vee gesteel word nie en van beskerming deur die Duitsers was daar geen sprake van nie.     As hulle by die Kaptein gaan raad vra het dit gewoonlik beteken dat hulle daar 'n hof gehou word en die boere dan self  gestraf word.
Die boere het onder mekaar gekuier en saam kerk gehou.   Die dienste is deur Flip Kotze en Johannes Kruger gelei.    Hulle het nog geen kerke  of skole gehad nie.   Die moeders het self die kinders geleer veral vir aanneming.     Daar was nie wette of regering nie en ook niemand was eintlik 'n leier nie, hoewel Hendrik Smit baie gereken geag word.    Hulle het net self 'n plegtige belofte afgelê om die tradisies van hul voorouers te handhaaf, hul kinders in die vrese van die Here op te voed, en om die wette van die land te eerbiedig en altoos bymekaar te staan.   Wat hulle ook gestand gehou het sodat daar nooit enige probleme ontstaan het onder die trekkers nie.

 

Algaande het hulle hoër op getrek na beter weivelde en ook om van die gedurige gesteel van hul vee weg te kom. 

 

By die Karrasberge suid van Keetmanshoop was die wëreld nog onbewoon.   Hier het hulle weer 'n tyd gewoon.   Daarvandaan het

die trekkers hulle rondom Gibeon, die plaas Marienthal, Kub, Stampriet en selfs so ver as Schaaprivier naby Windhoek gaan vestig.

 

In 1893 was die mense al vier jaar aan die trek en hul voorrade het begin opraak.

 

13 Augustus 1893 het Ds A. Murray en Ds. Bam by die Karasberge gekom.    'n Onderwyser Mnr le Roux  is gevestig op die plaas Gannapan by die eerste plaasskool.

 

Hendrik Witbooi se bendes het die suide nog steeds gestroop en onveilig gemaak.

    Von Francois se manne was te min om Witbooi in toom te hou en kon die trekkers nie help nie.

 

Maart 1893 het Majoor Leutwein met die eerste versterkings uit Duitsland aangekom en verslaan Hendrik Witbooi by Hoornkranz in 1894.   Vir die volgende tien jaar sou daar weer vrede heers. 
Die Duitsers loof die boere vir hul vlyt, deurstettingsvermoë, volharding  waterverskaffing, transportry, hulp teen die opstandige bendes, wetsgehoorsaamheid, hul kundigheid en hul patriargaal-vrome familielewe wat 'n groot voordeel was      Die Duitsers was egter versigtig vir te groot groepe Afrikaners  aangesien hulle bang was dat dit die Duitse regering in gevaar sou stel.

  Die beste sou wees om hulle met die Duitse gemeenskap te assimileer. 

Later eers het hul die "Burenfrage" geword oor hul gehegtheid aan hul eie identiteit,  taal, godsdiens en tradisies en omdat hulle nie met  die Duitsers wou assimileer nie.   Hulle was bang vir 'n staat binne 'n staat.  Die Duitsers wou hê dat hul eie Rynse Sendelinge die sakramente in Duits, volgens N.G. formule  aan die trekkers bedien en dat na vyf jaar die prediking slegs in Duits moes geskied.   Hiermee was die trekkers natuurlik nie gediend nie, want hulle wou hul eie identiteit, eie kerk en eie skole hê.    "Onse Kerk is vir ons dierbaar".

 

1894 - 1895 Curt von Francois is die bevelvoerder van die Schutztruppe
1896 was daar al ongeveer 600 Afrikaner Voortrekkers in Suidwes.   

 

1897 Nicolaas Gysbert Jacobus MARITZ trek vanaf Ghaap se berg naby Cambell, deur Rietfontein Suidwes binne.

 

1897 - 1904  Theodor Leutwein is die bevelvoerder van die Schutztruppe.

 

Intussen het die trekkers 'n lonende bedryf gevind deur transportryery vir die Duitsers vanaf Swakop na Windhoek, Otjimbingwe die vesting van die Herero's en ook Luderitz.
 In 1897 het die Runderpes ook in die Suide van Suidwes uitgebreek wat 'n gevoelige slag vir die transportryers was.

 

1898 het baie swaar reën weer muskiete gebring en het die trekkers vir die eerste keer met malaria te doen gekry.   So was etlike van 'n gesin siek en kon niemand omsien na die vee nie.    As hulle weer gesond was moes baie uitvind dat Witbooi al die vee geplunder het.   Danksy die Afrikaner se herstelvermoë het hulle weer hul veestapels opgebou na die Runderpes en het dit goed begin gaan vanaf 1998.
6 Augustus 1898 by die gemeentestigting in Warmbad was daar 66 doopregistrasies en 44 lidmaatregistrasies van jong lidmate wat by die Rynse sendelinge belydenis afgelê het.  Op Warmbad was daar  sendingeboue, kerk, skool, smidswinkel, handelshuis, geboue van die West African Territories Co. en 'n fort.   Die Duitse  Statistieke toon in 1898 dat daar reeds 600 Afrikaner mense tot by Windhoek in die land teenwoordig was.
Die Rynse Sendelinge voorsien aan opvoeding en geestelike bediening.  Pastoor Wandres is baie goedgesind vir die boere en ware kampvegter. Hy het die NG lidmate byeengebring vir die gemeente stigting.   Hulle stig die Gemeente van Groot Namaqualand op 'n vergadering van  29 Julie tot 7 Augustus 1898.
Warmbad met  256 siele word as Zuiderwijk en Gibeon met 258 siele as Noorderwijk.    Die Sinode laat egter na om die nuwe Gemeente te erken en kom daar niks van nie.
1899 het Ds. J.A. Malherbe van Goudini tot by Warmbad besoek afgelê   Hy stig 'n  rondgaande skool en stel P. Hugo aan as onderwyser.
1900 is daar 'n ooreenkoms met die Duitse Regering in Berlyn gesluit.   Van die Kaapse Rebelle wat na Nederland gevlug het onder andere Frans de Villiers Smeer, J.D. van der Westhuizen en J.J. Joubert het 'n aanvaarbare ooreenkoms gesluit op 3 Januarie 1901 wat die Boere die reg gee om in Suidwes te vestig.

 

Die Hereros en die Namas is ongelukkig oor die grond wat verkoop is, oor die wette van die Duitse Regering en dat hulle nie meer tradisioneel die beeste kan stroop van die ander stamme nie.

 

Die Namas het baie gedrink en groot skulde aangegaan en dan later die plase verkoop.     Hierdie transaksies van verkope en ondertekening is voor die dikstrikshoof in teenwoordigheid van die kaptein en sy raadslede te Gibeon onderteken en bekragtig.   Die oorspronklike transaksies word veilig bewaar in die Windhoekse Argief.   Hulle kon ook nie meer met Herero beeste betaal nie.   Die beeste moes ook nou gebrand word en uitkenning was nou maklik.   Die Nama's het  dus begin verarm.

 

16 Mei 1902 reël Henning von Burgsdorff, distrikbeampte van Gibeon, Hauptmann van Gibeon of  Bezirks hoofman  'n vergadering  tot die hervorming van die N.G. Kerk    Hy wil die gereformeerde Boere en die Lutherse Duitse koloniste in een landskerk verenig.    Pastoor Otto Simon kom vir die boere op.    Hy belê 'n  vergadering op 15 Mei 1902 om hulle voor te berei en hiervoor vra D.R. de Klerk vir 'n kerkwetboek sodat hy sy saak kan verdedig teen von Burgsdorff.
Op 13 November 1902  onderteken die Duitsers en die Boere 'n ooreenkoms in Windhoek dat die N. G. Kerk hier kan vestig.    Die skole moet in Duits wees.   Burgerskap kon op 'n vrywillige basis verkry word.   Die Duitse regering sien 'n geleentheid om die Burenfrage op te los deur die boere te verduits deur skole en kerk en so die boere se taal en kultuur te laat verdwyn en Duits te maak.   Hulle bied Pastoor Simon aan om die boere kerklik te bedien.
1902 het Ds. D.S. Botha besoek gebring en die Gemeente van Gibeon word gestig.   Dit is die eerste Gemeente in Suidwes en val onder die ring van Upington.    Gibeon met die kerk het geleidelik die middelpunt geword vir die Trekkers.   Die eerste kerkraad bestaan uit ouderling  Frans Smeer en Stephanus Naude, Stephanus Rossouw, Willem van der Merwe en Nicolaas Smit as diakens.   Hendrik Smit het ₤500  aan die kerk geskenk vir 'n boufonds.

 

1902 en Hendrik Smit en Frans Smeer slaag daarin om Albertus Kooy en sy vrou as onderwyspaar vanaf Nederland te werf.   Kooy gaan na Swartmodder en stig  'n plaasskool.
Aangesien Kub meer sentraal is, is die skool na Kub verskuif en gedurende Maart 1903 is die eerste Afrikaanse Kerk skool op Kub geopen met Albertus Kooy as eerste onderwyser.   Dit open met 17 Afrikaanse kinders.

 

Kub word in Maart 1904 aangewys as die "Hoofd Kerkplaats" met Gibeon as 'n buitewyk.   Dit staan bekend as Gibeon Gemeente.  Kuis word van Mnr. Bogalecki aangekoop as kerkplaas.   'n Pastorie en skoolgebou word opgerig wat vir eredienste gebruik sou word.   Henning von Burgsdorff is weer ontevrede en ontbied vir Smit.  Hy verklaar die kooptransaksie ongeldig.

 

Die Gemeente Gibeon beroep amptelik op 'n vergadering gehou 21 Mei 1904 vir Ds. Conradie as leraar en die onderwyser, wat nou eerwaarde is, M.H. le Roux as hulp leraar. Hulle verhouding versuur en later praat die twee nie meer met mekaar nie.   Le Roux wou nie Ds Conradie se bevele gehoorsaam nie en hulle is ook onenig oor  le Roux se salaris.
Die bevestiging geskied 21 Augustus 1904 op Gibeon deur 'n Rynse sendeling..   Die Ring van Beaufort sou op 20 Oktober 1904 byeenkom en Ds Conradie moes die gemeente daar verteenwoordig.   Intussen het die oorlog uitgebreek en  Ds. Conradie kon nie na sy gemeente terugkeer nie.    Die ringslede en Ds Conradie was totaal onbewus van die tragedie wat hom toe  reeds in Suidwes afspeel in en om Gibeon en Kub.
Hendrik Witbooi het intussen verskeie plase aan die Trekkers verkoop onder andere die plaas Swartmodder aan Hendrik Smit.    Daar was 'n goeie verhouding tussen die Witbooi's en die boere en Hendrik Smit en Hendrik Witbooi was vriende.
1904 - 1906  Lothar von Trotha word die bevelvoerder van die Schutztruppe.

 

1904  DIE HERERO'S MAAK OORLOG.

 

Op 1 Januarie 1904  het die Herero's 123 Duitse boere vermoor.   Kaptein Victor Franke kom van Swakop af en neem Okahandja oor en daarna Omaruru.

 

Die Herero's vlug na die Waterberge en word daar verslaan deur die Duitse magte.   Leutwein wou nie veg nie, maar hulle stuur vir von Trotha.   Nadat hulle 88 keer slaags was, word die Hereros verslaan 11-14 Augustus 1904.    Hulle breek deur die Duitse linie en vlug na Ngami-meer en na Omaheke. Hulle het van honger en dors gesterf in hulle vlugtog.   Van die 80,000 Hereros het maar 10,000 oorgebly en het hulle hul mag  en stamverband verloor.  Afrikaanse boere was nie hierby betrokke nie. 
Samuel Maherero en 1500 van sy mense het Bechuanaland bereik.    Hy is daar in 1923 dood soos sy vader voorspel het.  Hendrik Witbooi veg aan die kant van die Duitsers.      Maar hulle dros met perde gewere in groepies.   Later sou Nama arbeiders ook so dros.    Oorlogspraatjies het oral hoogty gevier.   Van die arbeiders van die Trekkers begin hulle waarsku dat daar oorlog gaan kom.

 

Op Gibeon was daar noue bande tussen von Burgsdorff en Witbooi.   Goewerneur von Leutwein  was bewus hiervan en het dit goedgekeur.
1904  DIE OORLOG VAN DIE NAMA'S EN BONDELSWARTS.

 

Eerste het die Bondelswarts  by Warmbad teen die Duitsers opgestaan.  

23 Oktober 1903.  Die Bondelswart opstande het ontstaan as gevolg van 'n bok wat gesteel is.  Toe die polisie wou gaan ondersoek instel het hulle al drie vermoor en ook die offisier.   Die twee onderkapteins van die Bondelswarts, Morris en Morenga lei toe 'n opstand.    Die Duitse magte onderdruk die opstand en en 27 Januarie 1904 word vrede gesluit te Warmbad   Die boere het nie verliese gely nie en was ook nie betrokke nie.

 

Daarna  brei die oorlog uit na die Nama's van Simon Koper van Gochas en die van Kornelius van Bethanie en die van Johannes Christiaan van Warmbad.   Dit het die hele suide van Suidwes gedek.  

 

Tweede  fase was die opstand van Hendrik Witbooi.   Terwyl die Duitse magte nog besig was met die Herero's het hy sy kans gesien

om sy heerskappy te herstel.   Hy luister na Baal Stuurman en  die heilige opdrag om alle blanke mans en seuns dood te maak.  -   "Gesél van Namaland"
2 Oktober 1904 begin hy met sy aanslag  en die polisiemanne van Marienthal word dood gemaak.
Op 3 Oktober 1904 het Hendrik Witbooi twee van sy raadslede Samuel Isak en Petrus Jod na Gibeon gestuur met 'n brief aan von Burgsdorff.   Hierin het hy  oorlog verklaar.

 

3 Oktober 1904 Von Burgsdorff gaan  met die twee gesante na Rietmond.   Hy waarsku sy kamerade dat sou hy nie terugkom nie hulle moet aanvaar dat hy dood is en dat oorlog uitgebreek het.    Hy word in 'n lokval gelei en word deur Samuel Saal doodgeskiet by die polisiepos op Marienthal.
3  Oktober 1904  Twee jong mans wat nie bewus was van die oorlog nie het transport gery toe 'n groep Witbooi's hulle ook onverhoeds vermoor het.   Hulle was Jacobus Coetzee en Christoffel Rossouw.    Nog drie mans, Cilliers en sy twee skoonseuns     Willem Johannes Kuhn en Thomas Johannes Knoesen is ook daar vermoor.
Die volgende dag 4 Oktober 1904  is ouderling Johannes Mähler op Orab vermoor.    Sy broer Johannes Mähler word ook vermoor en asook sy swaer Delport. 
Die mense het nog niks geweet van die oorlog nie, behalwe van Sersant Ficke wat doodgeskiet is.   Die weduwee Maritz moes met haar familie  vlug van haar plaas Garies deur die donker en te voet om op Kub te kom.   Briewe is toe uitgestuur aan al die boere in die omgewing sodat daar laer kon getrek kon word.
Die trekkers wat gewaarsku is het almal veilig daar aangekom behalwe die wat te ver was en nie bereik kon word nie.   Van hulle is gruwelik vermoor.

Alle kerkdokumente is met die moord op ouderling Frans Smeer op die plaas Marienthal op 3 Oktober verwoes en gesteel.  Ook die kerkgeld van ₤650.
5 Oktober  1904      By  die polisiepos op Kuis word Sersant Ficke doodgeskiet en al die ammunisie word gebuit.    Bogalecki word aangeval en bring tyding op Kub.      Meester Kooy het nou rapporte uitgestuur om die trekkers te waarsku en om op Kub bymekaar te kom.
5 Oktober 1904   Eerwaarde Holzapfel word ook vermoor.   Die vrouens en kinders was egter gespaar en moes na Gibeon gaan.    Hulle was per wa vervoer maar moes afklim en deur bosse en klippe self aanstap.    Die vrouens het groot ontberings moes deurmaak sonder water of kos.
Die moorde van   Hendrik Smit en sy gesin was besonder wreed en gruwelik omdat daar soveel mense vermoor is.   Ook omdat Hendrik Smit en Witbooi vriende was.   Witbooi het vir Smit laat weet dat daar oorlog gaan kom
Hendrik Smit, Johannes Potgieter en sy seuntjie van 18 maande, Hendrik van der Westhuizen en sy twee seuns,  Cornelis Bothma, Hendrik van der Westhuizen, skoonvader van Hendrik Smit en Gys van der Westhuizen, 'n jong ongetroude man.    Almal is vermoor.

  Slegs een seuntjie wat 'n rokkie aangehad het en aangesien was as 'n dogtertjie is gespaar.    Ook een wat swaar gewond is, is gespaar omdat die Witbooi's gereken het dat die Here nie die kind wil hê nie.   Die vrouens moes vlug en het later saam met Steyn en Fourie se vrouens en kinders na Rietfontein en daarvandaan na Upington gevlug.   Hulle het eers na 'n maand daar aangekom.

  Johannes Potgieter se vrou het haar 18 dae oue baba op pad verloor.   Sy het met haar hande 'n graf gegrawe.
In Damaraland  is vermoor  'n handelaar van Stampriet,     Dawid Uys asook Dorslandtrekkers soos Botha, de Wet en Watermeyer in Damaraland.
Die Slag van Kub het aan die einde van 22 November 1904 plaasgevind.    Die Trekkers was alleen daar met ongeveer 31 weerbare mans.   Die bevelvoerder onder hulle was Kommandant  Dirk Booysen met Willem van der Merwe wat Veldkornet was.  Daar het later 'n Duitse afdeling van 40  soldate  met geweers, patrone en 'n kanon aangekom om te kom help.   Die vee en perde wat die trekkers saamgebring het is meestal gesteel.   In hierdie tyd het die kinders wat op kosskool was ook aan swartpokke gely asook party van die grootmense en so was baie mense siek.

 

Kommandant Dirk Booysen en Nicolaas Swart is albei doodgeskiet toe hulle op patrollie gery het.

 

Hendrik Witbooi en Simon Koper het teen Kub opgeruk met 1,500 berede man met en nog ongeveer 1,000 voetgangers.   Die vyand het die hele laer omring en van alle kante aangeval.  Die klompie boere en die klein afdeling Duitse troepe was nie genoeg om Kub te beskerm nie.

 

Sewe man het 'n koppie bestorm en dit van die vyand afgeneem en die laer so beskerm. Die sewe man was Jan Lambrechts, Jan Jurgens, Harry Gird, Adriaan Croese, Willem Dreyer, Albertus Kooy, en Piet Brand.  (Jan Coetzee 'n Duitse soldaat en Fritz Brand het later gaan help).

Toe dinge begin sleg lyk vir die boere en  die paar Duitse soldate het  Oberst Deimling met 230 man vanaf Windhoek Kub bereik.   Hulle het pas terug van die geveg teen die Herero's by Waterberg.  Daar was ook ongeveer 80 vrywillige Basters  wat saamgekom het.

   Die feit dat die boere saam met die Duitsers geveg het, het die wedersydse  vertroue  herstel.   Die Duitsers was bang dat die boere saam met die Witboois sou veg teen die Duitsers.
Eduard Mostert, Willem Rossouw en Fritz Brand het daarna die Duitsers gehelp om die Witboois te agtervolg.   Eduard Mostert het die Duitse  Ysterkruis gekry vir dapperheid nadat hy gewond is.
Die mense wat saamgetrek was op Gibeon het ook eers alleen daar gebly sonder beskerming.       Gibeon is ook aangeval, maar daar het 'n donderstorm opgekom en dit het gehael net oor die Nama krygers en nie op die dorpie nie.    Dit het hulle as 'n slegte teken beskou en nadat Hendrik Witbooi se huis en kerk die lug ingeskiet is het hulle die aftog geblaas.

 

Die Boere het saamgetrek by Kub,  Gibeon en Aris asook Maltahohe en Aroab.   Dit was vlugteling kampe en hulle het daar gebly  vir die volgende drie jaar.   Van 1903 - 1905   Toe eers kon hulle weer na hul plase teruggegaan.
1906 - 1907    von Deimling is die bevelvoerder van die Schutztruppe.

 

Die oorlog het vier jaar geduur van Oktober 1904 en hou aan tot Maart 1908.   Krysgswet word in 31 Maart 1907 herroep.   Die lewe het stadigaan weer na normaal teruggekeer.

 

Die strydende magte het 295 keer in gevegte gebots.

   2,400 Duitse militêres verloor hulle lewe.   Die lys van burgerlike vermoordes, Duitse sowel as Afrikaanse Boere,  in veral Gibeon gebied rapporteer 290 name.
Hoewel Hendrik Witbooi die 29ste Oktober 1905 dood is en Simon Koper  ook verslaan word, duur die oorlog tot Maart 1908,  Kornelius van Bethanie en Johannes Christian van Warmbad  het nog  sporadiese aanvalle gedoen.

 

Generaal von Trotha keer in 1905 na Duitsland terug en Friedrich von Lindequist word aangestel. 1905 - 1907

 

Van die boere het Duitse onderdane geword.   Hulle kon makliker plase koop.   Dawid Maritz wou nooit 'n Duitse onderdaan word nie en toe die polisie na hom kom soek het hy vir 'n maand in die veld weggekruip
Alles het langsamerhand weer reggekom en die boere het weer na hul plase teruggekeer en huise begin bou en putte  gegrawe en die land help ontwikkel.     Hulle wou nooit met Hendrik Witbooi oorlog maak nie en was baie bly dat hulle weer normaal kon voortgaan.

 

Na die oorlog heers daar 'n skaappes onder die skape wat duisende skape laat vrek en die boere weer verarm.   1910-1911
In 9 Junie 1908 het Ds. J.H. Hugo die hele gebied besoek en ook die  Gemeente van Gibeon.   Nuwe registers van die gemeente moes opgestel word.   Hy reis byna 4,000 kilometer per ossewa om die hele gebied te besoek wat hom drie maande neem.

 

1910 het Edward Johannes Leonard gekom.   Hy was die heel eerste leraar wat aangestel word vir die Gemeente Gibeon
Edward Johannes Leonard *21.01.1884 Winburg.   As 16jarige  jaar gaan hy op kommando in die Anglo Boere Oorlog 5 Februarie 1900.   Hy word krygsgevange geneem  en word na Groenpunt gestuur.   Nege maande later na St Helena  waar hy tot die  evangelie bediening as sendeling belydenis aflê en in  1909 as sendeling toegelaat word by die    Richmondse gemeente in die Karoo   Omdat daar geen fondse is vir 'n leraar in Suidwes nie samel hulle  geld in vir 'n sendeling.  Die  Sinode word van Gibeon Gemeente se behoefte vertel en besluit om Leonard na Gibeon Gemeente te stuur.   Hy kom op 18 Maart 1910 op  Gibeon aan.

 

Die Duitse Regering het tot 'n val gekom in 1915 met die Eerste Wêreld Oorlog toe Suid-Afrikaanse troepe Suidwes binnegeval het.
Na die oorlog het die boere met Karakul skape begin boer en lewensomstandighede  het weer begin normaliseer.
Duits-Suidwes het Namibië geword en onafhanklikheid op 21 Maart 1990    gekry en die Swapo Regering het aan bewind gekom met Sam Nujoma as president.   Pastoor Hendrik Witbooi, 'n nasaat  van Hendrik Witbooi,  is 'n Minister in die Namibiese Kabinet.     Die oorspronklike  Hendrik Witbooi pryk op die nuwe Namibiese geldeenheid, die  Namibiese Dollar.

 

Saamgestel deur Susan Bredenkamp  kleindogter van Dawid Johannes Maritz en Susanna Lesaja du Plooy.

Bronne:

Voortrekkers van Suidwes   -          Dr. Gustav S. Preller

Martelaarsbloed sal nooit verdroog          - Connie Zondagh

Herinneringe van Suidwes-Voortrekkers    - P.G. Visser

Bakermat van 'n Kerkverband   - Dr. M.M. Nieuwoudt

The Ageless Land  - Olga Levinson

South West  -  Gerald Cubitt  and Johann Richter

South West Pioneer   - Colin Earl Bell

Nuusbrief     S.W.A. Wetenskaplike Vereniging

Webwerf   van Dr. Klaus Dierks

Handgeskrewe verhale deur Christoffel Coetzee   Windhoek Argief

Witbooi Oorlog Verhaal van Joseph Jooste in Handskrif van C. Coetzee

Namib   - David Coulson

Kub 1903 - 1953   Feesblad